Wiele

GWM brei plaaslik uit met die Tank

Jannie Rossouw, motorliefhebber en besoekende professor, Wits Besigheidskool
Gepubliseer: 3 Mei 2024
Die GWM Tank 300.

 

Tank is die GWM-groep se nuwe handelsmerk in Suid-Afrika. Die Tank 300 word saam met Haval, die P-reeks en Steed-bakkies en die vol-elektriese Ora verkoop.

Hierdie is ’n nuwe modelreeks van GWM en Suid-Afrika kry binnekort ook die groter Tank 500. Die reeks sal bydra om GWM se verkope verder te laat groei vanaf 1 656 voertuie in Februarie 2024.

Die Tank 300 is ’n middelgrootte-sportnutsvoertuig wat in drie modelle beskikbaar is. Al die modelle is 4,76 m lank, 1,93 m wyd en 1,9 m hoog. Dit verseker ’n gemaklike sitposisie en goeie uitsig vir die bestuurder.

Dit het ’n hoekige ontwerp wat uitstekende gebruik van binneruimte tot gevolg het. Die hope kop-, skouer- en beenspasie en ’n groot laairuim agter die agtersitplekke het my beïndruk.

Al drie modelle is uiters mededingend geprys. Die Super Luxury­ se prys is R725 950 (Maart 2024) en die Ultra Luxury-model kos R775 950 (Maart 2024). Die duurste model het ’n petrol-/hibriede kombinasie-enjin wat met Super Luxury-afwerking verkoop vir R851 950 (Maart 2024).

Die petrol-/hibriede model ontwikkel 255 kW en 648 Nm, teen­oor 162 kW en 380 Nm vir die ander twee modelle. Alle modelle het outomatiese ratkaste.

Ek het ’n oranje petrol-/hibriede Tank 300 bestuur. Ek het gehou van die uitstekende kraglewering en sygladde ratkas. Die voertuig het uitstekende padhouvermoë op alle oppervlakke en sal uitstekend vaar in die platteland waar paaie verval. Dit sal ook op enige plaas goed lyk langs ’n P-reeks-bakkie van GWM.

Ook in botsingstoetse stel die Tank 300 nie teleur nie. ANCAP (die Australasian New Car Assessment Program) het na botsingstoetse volpunte aan die voertuig toegeken. Lesers moet egter altyd onthou dat veiligheidsgordels vir volwassenes en kinders integraal in botsingstoetse is. Sonder die gebruik van veiligheidsgordels is insittendes in baie groter gevaar tydens ’n botsing.

Die vriendelike personeel by die GWM-Menlyn-handelaar van die Hatfield Motor Group in Pretoria-Oos het die Tank 300 vir doeleindes van hierdie artikel beskikbaar gestel.