Nadoodse ondersoeke: ’n Onontbeerlike hulpmiddel vir korrekte diagnose

Share This Post

Estimated reading time: 4 minutes

  • ’n Nadoodse ondersoek is ’n prosedure wat veeartse uitvoer om die oorsaak van dood en ander inligting te bepaal.
  • Elke nadoodse ondersoek word volgens ’n standaardprosedure uitgevoer om te verseker dat geen besonderhede misgekyk word nie.
  • Alle nadoodse ondersoeke moet so gou as moontlik uitgevoer word; op ’n warm dag mag ontbinding vinnig plaasvind en kan dit ’n definitiewe diagnose bemoeilik.
  • Terreinkeuse is belangrik by ‘n ondersoek. Gerief, sanitasie en wegdoening van die karkas moet oorweeg word en besoedeling van grond of veevoer moet vermy word.
  • ‘n Nadoodse ondersoek vergemaklik die versameling van biologiese materiaal en verskaf eerstehandse inligting oor die verloop van die siekte.

Die filosoof, Benjamin Franklin, was ’n man van vele talente. Hy het reeds in die 1700’s gesê dat daar oor min dinge sekerheid kan wees, behalwe belasting en die dood. Veeprodusente pas op ’n daaglikse basis risikobestuur toe en alhoewel hulle alles moontlik doen om die dood van hul diere te voorkom, gebeur dit soms wel.

Dit is juis hier waar die veearts ’n belangrike rol kan speel deur ’n nadoodse ondersoek uit te voer. Dit word ten sterkste aanbeveel dat ’n volledige nadoodse ondersoek reeds met die eerste vrekte gedoen word en nie eers na ‘n klomp vrektes nie. Veral met akute siektes is dit belangrik om so gou as moontlik ’n diagnose te maak en voorkomend op te tree om groot finansiële verliese te voorkom.

Die rol van die nadoodse ondersoek

’n Nadoodse ondersoek is ’n prosedure wat veeartse uitvoer om die oorsaak van dood en ander inligting te bepaal. Kortom, veeartsenykundige patologie en nadoodse ondersoeke is die sleutel tot probleemoplossing op ’n plaas.

Elke nadoodse ondersoek word volgens ’n standaardprosedure uitgevoer om te verseker dat geen besonderhede misgekyk word nie. Veeartse het ’n deeglike kennis van die normale anatomie van verskillende spesies en kan daarom die abnormale of patologie herken om letsels te identifiseer, klassifiseer, dokumenteer en die legkaartstukke te pas om met ten minste ’n aanvanklike kortlys vorendag te kom. Soms is bykomende toetse nodig om tot ’n gevolgtrekking te kom.

Lees meer oor die waarde van ‘n nadoodse ondersoek met snotsiekte hier.

Hulpmiddel vir die veearts

’n Nadoodse ondersoek sal nie net bydra tot die diagnose van ’n siekte nie, maar kan ook in sommige gevalle voorkom dat dodelike siektes na mense oorgedra word (soönose).

’n Nekropsie of nadoodse ondersoek is ’n belangrike hulpmiddel om te bepaal waarom die dier gevrek het. Alle nadoodse ondersoeke moet so gou as moontlik uitgevoer word; op ’n warm dag mag ontbinding vinnig plaasvind en kan dit ’n definitiewe diagnose bemoeilik.

Beskerm die omgewing en mense

Terreinkeuse is belangrik by ‘n ondersoek. Gerief, sanitasie en wegdoening van die karkas moet oorweeg word en besoedeling van grond of veevoer moet vermy word.

Sou ’n dier akuut vrek met bloedige vloeistowwe wat by alle liggaamsopeninge uitkom, moet een van die eerste moontlike diagnoses dadelik miltsiekte wees. Voor die karkas oopgesny word, sal die veearts eers ’n bloedsmeer doen en miltsiekte as ’n moontlike oorsaak uitskakel. Indien dit wel miltsiekte is, moet die karkas onmiddellik begrawe of verbrand word om te voorkom dat die hele omgewing met hoogs aansteeklike miltsiektespore besmet word. Sou die dooie dier vervoer moet word, moet dit geskied sonder om die hele omgewing te besmet en die voertuig moet na afloop deeglik ontsmet word.

Tydens die nadoodse ondersoek sal die veearts die nodige beskermende klere en handskoene dra en die nodige toerusting hê om ’n volledige ondersoek te kan doen. Almal wat direk betrokke is by ’n nadoodse ondersoek, moet ook die nodige persoonlike beskermingstoerusting dra. As ‘n opgeleide persoon sal die veearts ook die nodige monsters kan neem en hanteer vir verdere laboratoriumondersoeke. Hondsdolheid is ’n dodelike siekte vir mens en dier, en monsterneming moet 100% korrek geskied om oordrag na ander diere en/of mense te voorkom.

Waardevolle hulp

’n Nadoodse ondersoek kan uitgevoer word om diagnostiese bewyse van ‘n onbekende of vermoedelik voordoodse siekte te verkry. Verhoogde mortaliteit of morbiditeit onder ’n populasie diere moet ondersoek word.

’n Nadoodse ondersoek vergemaklik die versameling van biologiese materiaal en verskaf eerstehandse inligting oor die verloop van die siekte. ’n Nuwe tendens om foto’s van moontlike letsels wat ’n siekte veroorsaak het te neem en dit dan aan die veearts te stuur of op ’n besprekingsgroep te plaas, neem ons baie keer verder weg van ’n antwoord en die oorsaak van die vrekte. Myns insiens is die opbrengs op die belegging nie altyd waffers nie.

Die waarde van ’n deeglike en stelselmatig uitgevoerde nadoodse ondersoek moet nie onderskat word nie. Die inligting wat versamel, akkuraat aangeteken en geïnterpreteer word, bied waardevolle hulp in die formulering van strategieë rondom dieregesondheid wat daarop gemik is om dieresiektes in ’n kudde te voorkom en beheer. Dit is een van die belangrikste pilare van voorkomende kuddegesondheid.

Lees meer van kopervergiftiging by skape.

Daar is niks wat ’n volledige nadoodse ondersoek deur ’n veearts kan vervang nie. – Dr Chris van Dijk, Bovine Herd Health Specialist

Vir meer inligting, kontak dr Chris van Dijk by [email protected].

Related Posts

Weeklikse plaashek-rooivleispryse / Weekly farm gate red meat prices

Estimated reading time: 5 minutes Die jongste vleispryse word...

SA goat breeds suit the Zimbabwean landscape

Estimated reading time: 7 minutes Pathisani Ncube has a...

Weeklikse weer met Johan van den Berg

Estimated reading time: 5 minutes LET WEL: Johan van...

The South African rabbit meat industry in the spotlight

Estimated reading time: 7 minutes Rabbit meat is not...

Domestic pork industry carcass price statistics – Week 19 of 2024

The weekly pork carcass price is brought to you...

Ankole embryos sell for record price in South Africa

The South African record price for embryos sold was...