Hommeltuie sorg vir ’n tegnologiese rewolusie op plase

11175
’n Hommeltuig kan nie op enige plek gevlieg word nie. Die eienaar moet steeds aan Burgerlugvaartregulasies voldoen.

6 minutes

Hierdie artikel is oorspronklik in 2018 gepubliseer.

Die huidige geslag staan midde-in ’n tegnologiese rewolusie en dit is veral waaghalsige veeboere wat opgewonde raak oor maniere om roetinetake op die plaas te vergemaklik sonder die frustrasie om ekstra arbeiders te gebruik. Inteendeel, met die huidige tegnologie is ál minder hande op die plaas nodig.

Hommeltuie is een van die tegnologiese ‘wonders’ wat al hoe meer byval op veeplase vind. Veeboere het baie roetinetake, sommige daagliks en sommige weekliks, maar die kern van die saak is dat dit gedoen moet word. Heinings moet gereeld nagegaan word, windpompe en damme moet op ’n gereelde grondslag besoek word, kampe moet nagegaan word om seker te maak die lekke en ander voedingsbronne is nog in orde, vee moet getel word en ’n ogie moet oor roofdiere gehou word.

Lees meer oor die kostedoeltreffendheid van hommeltuie.

Hierdie roetinetake is nie net tydrowend nie, maar omdat die meeste veeplase in Suid-Afrika groot en uitgestrek is, is die veeboer se brandstofrekening elke maand ’n stewige bedrag. Met behulp van hommeltuie kan roetinetake nie net in ’n korter tyd verrig word nie, dit is ook baie meer kostedoeltreffend.

Oppas vir slaggate

Die gedagte aan ’n hommeltuig wat baie van die roetinewerk kan oorneem, is vir die veeboer baie aanloklik. Verskeie aspekte moet egter in gedagte gehou word voordat ’n mens een aanskaf.

Volgens die lugvaartwette val hommeltuie en radiobeheerde modelvliegtuie in dieselfde kategorie, maar die gebruik van hommeltuie het so vinnig toegeneem dat die Suid-Afrikaanse Burgerlugvaartowerheid (SACAA) tans werk aan nuwe reëls vir hommeltuie.

Jaco van der Merwe van Action Gear, ’n spesialis-handelaar in Pretoria wat al sedert 2010 hommeltuie invoer en aanlyn verkoop, sê die wet onderskei tussen twee gebruike van hommeltuie. Die eerste is vir kommersiële gebruik en die tweede is wanneer ’n mens dit vir ’n stokperdjie gebruik.

Hommeltuie is meer as net ’n speelding. In landboukringe word dit al hoe meer aangewend om koste en arbeid te bespaar.

Riglyne vir die kommersiële gebruik van hommeltuie

Jaco beskryf kommersiële gebruik as enige gebruik van ’n hommeltuig in ruil vir enige vorm van vergoeding of verryking. “In so ’n geval moet die loods van die hommeltuig ’n lisensie hê. Dit is nie ’n amptelike vlieglisensie nie, maar wel ’n radio-vlieënierslisensie, wat baie minder kompleks is as die volle vlieënierslisensie en ook heelwat minder kos. Verder moet die hommeltuig formeel by SACAA geregistreer word.”

Hy sê die kommersiële gebruik van hommeltuie word beskryf as individue of ondernemings wat ’n diens aan kliënte lewer. “Dit is meestal om data te versamel.

“So ’n persoon of onderneming moet ook ’n geldige operateursertifikaat in sy besit hê, wat bewys dat hy ’n geregistreerde verskaffer van lugdienste is. In die geval van ’n grondeienaar wat self die hommeltuig wil inspan vir werk op sy plaas, is daar nog ’n grys gebied in die wetgewing.”

Reëls in verband met hommeltuie geld vir almal

Ongeag of ’n hommeltuig vir kommersiële doeleindes of as ’n stokperdjie gebruik word, is daar tog ’n stel reëls wat vir almal geld. Op ’n webblad van SACAA is Deel 101 van die Wet op Burgerlugvaart, 2009 (Wet 13 van 2009) beskikbaar gestel waarin hierdie reëls uiteengesit word.

Burgerlugvaart is baie streng oor veiligheid en een van die eerste reëls wat gegee word, is dat ’n hommeltuig nie nader as 50m aan enige mens of groep mense, op ’n openbare gebied soos ’n sportveld of by sosiale geleenthede, mag vlieg nie. Jy kan wel naby aan mense vlieg wanneer die mense onder jou beheer is en jy toestemming het, bv. by ’n kinderpartytjie.

’n Mens word nie toegelaat om oor iemand anders se eiendom, nasionale paaie en geboue te vlieg nie, tensy jy toestemming van die eienaar het. Ander gebiede wat buite perke is vir ’n hommeltuig, is tronke, polisiekantore, kernkragaanlegte, belangrike regeringsgeboue soos die Uniegebou en die Parlementsgeboue, brande of misdaadtonele.

Nasionale parke en lughawens

In Suid-Afrika is dit verbode om in nasionale parke met ’n hommeltuig te vlieg. In parke waar dit wel toegelaat word, mag die hommeltuig nie laer as 457m bokant die grond vlieg nie omdat dit wild kan afskrik.

Hommeltuie mag ook nie binne 10km van ’n vliegveld of lughawe gevlieg word nie, en ook nie naby bemande vliegtuie nie. In gevalle waar noodhulphelikopters of besproeiingsvliegtuie op plase bedrywig is, is dit die plig van die hommeltuigvlieënier om pad te gee vir die vliegtuie wat hul werk moet doen.

Heelwat ruimte word gegee vir mense wat hommeltuie as ’n stokperdjie gebruik of vir persoonlike gebruik, soos op plase, maar die wet bepaal ook dat tien jaar gevangenisstraf of ’n boete van R50 000 diegene wat nié die reëls en regulasies gehoorsaam nie, in die gesig staar.

Lees meer oor die regulasies in verband met hommeltuie.

Op veeplase word hommeltuie vir verskeie funksies aangewend, soos om vee te tel, om vee in onherbergsame dele te soek, asook om kampe en windpompe na te gaan.

Vereistes vir eienaarskap

Volgens Jaco is daar net een vereiste vir ’n persoon wat ’n hommeltuig vir nie-kommersiële doeleindes wil gebruik. “Hy moet ouer as 18 wees, die vliegreëls ken en verstaan en dit ten alle tye toepas. Enigeen kan dus die eienaar van ’n hommeltuig word.”

Hy sê dit is baie maklik om ’n hommeltuig te bestuur. “Dit verskil nie veel van ’n radiobeheerde vliegtuigie nie en beginners kry dié vaardigheid in ’n japtrap onder die knie. Feitlik alle hommeltuie het deesdae ’n hindernis-vermydingsfunksie, wat dit outomaties stop voordat dit in enigiets kan vasvlieg.”

Kragdrade is een van die groot probleme wanneer jy ’n hommeltuig gebruik. “Dit is een van die dinge wat die hindernis-vermydingstelsel nie kan raaksien nie, en die hoë magnetiese veld van kragdrade het ook ’n sterk negatiewe invloed op ’n hommeltuig se kompas en navigasiestelsel. Dit is raadsaam om nie naby kragdrade te vlieg nie.

“Ander strukture het nie ’n groot invloed op die sein nie, maar dit is nuttig om te onthou dat daar altyd ’n direkte lyn van sig tussen die operateur en die hommeltuig moet wees. Veral mense wat oor ver afstande wil vlieg, moet daarna oplet dat baie obstruksies in die lyn van sig kan kom oor so ’n lang afstand,” verduidelik Jaco.

Dink mooi voor jy koop

Die personeel van Action Gear is dit eens dat dit ’n duur stokperdjie is en dat verskeie aspekte in ag geneem moet word as ’n mens uitkyk vir ’n hommeltuig. Die belangrikste is die vliegtyd wat die hommeltuig het, asook die gehalte van die kamera.

Jaco meen dat die vliegafstand ook ’n faktor is wat in gedagte gehou moet word, veral op veeplase. “In die meeste gevalle is die afstand beperk tot 2km in helder weer, sonder enige sein-inmenging.

“Ander faktore wat ook in gedagte gehou moet word, is hoe maklik dit is om herstelwerk aan die hommeltuig te doen, die draagbaarheid en natuurlik die prys.” – Koos du Pisanie, Veeplaas

Vir meer inligting, besoek die webtuiste www.actiongear.co.za of skakel Jaco van der Merwe by 011 781 1323. Klik hier vir ’n kaart met alle verbode vliegsones.